In ’n skokkende voorval wat Sondag 21 April in die vroeë oggendure ontvou het, het ’n polisiebeampte van Kimberley glo sy meisie en haar broer geskiet voordat hy die geweer op homself gerig het.
Die voorval het omstreeks 02:00 plaasgevind en die polisiebeampte, 36 jaar oud, en sy meisie (32) is op die toneel dood verklaar.
Die vriendin se broer, ‘n 30-jarige man, ontvang tans behandeling vir sy beserings in ‘n plaaslike hospitaal.
Die Kimberley SAPD se eenheid vir ernstige en geweldsmisdade ondersoek nou sake van moord, poging tot moord en geregtelike doodsondersoek.
Luitenant-kolonel Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die presiese oorsaak en motief agter die voorval word ondersoek.
“Die ondersoek duur voort,” het hy gesê en enigiemand met inligting oor die voorval versoek om speur-ao Joseph Kamolane by 082 302 0407 te kontak.
Die provinsiale kommissaris van die SAPD in die Noord-Kaap, luitenant-generaal Koliswa Otola, het haar innige meegevoel met die families van die oorledenes uitgespreek.
In die nasleep van hierdie tragiese gebeurtenis het sy polisielede aangemoedig om hulp te soek by die verskillende SAPD-werknemergesondheids- en welstandeenhede wanneer hulle uitdagings in die gesig staar.
