Wrenchville SAPD was op Woensdag, 19 Junie 2024 besig met stop- en deursoekaksies toe hulle inligting oor vermoedelik gesteelde koperkabels by ‘n stortingsterrein ontvang het.
Die inligting is in werking gestel, en drie verdagtes is gevang om koperkabels op ‘n vragmotor te laai.
Die drie manlike verdagtes, onderskeidelik 21, 27 en 47 jaar oud, is in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
“Daar is beslag gelê op koperkabel met ‘n geraamde waarde van R112 684.00 en daar is ook beslag gelê op ‘n Tata-vragmotor en ‘n Nissan-bakkie, wat vermoedelik in die pleging van ‘n misdaad gebruik is,” het die Noord- Kaapse polisiewoordvoerder Kolonel Cherelle Ehlers, gesê.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Die ondersoek duur voort.
Die polisiëring van misdade wat verband hou met die knoei van en diefstal van noodsaaklike infrastruktuur bly ‘n prioriteit in die Noord-Kaap en sal kragtig aangespreek word.





