Die Springbok-streekhof het die 42 jarige Fernandes Rudolph Damon tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy ‘n 47-jarige verstandelik gestremde vrou van Komaggas, verkrag en haar maatskaplike toelae-geld gesteel het.
Die voorval het op 3 Junie 2020 plaasgevind toe die klaagster na ‘n plaaslike winkel gegaan het om haar staatstoelae te onttrek.
Mojalefa Senokoatsane, streekwoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het Dinsdag gesê die vrou het twee bottels drank by die bottelstoor gekoop nadat sy R800 getrek het.
“Die beskuldigde (Damon) het by die bottelstoor opgedaag, die klaer se alkohol vanaf die toonbank geneem en daarmee weggegaan. Sy was nie bekommerd nie aangesien sy die beskuldigde geken het hulle albei in Komaggas gewoon het. Die beskuldigde was ook vroeër vriende met haar kêrel,” het Senokoatsane gesê.
Hy het bygevoeg Damon het sy vriend en medebeskuldigde, Jason Diergaardt, langs die pad ontmoet en hulle het saam met die klaer na ‘n sloot gestap.
“Die klaer is gedwing om dagga te rook en alkohol te drink. Terwyl hulle die klaagster uitgetrek het, het die twee beskuldigdes R700 in haar besit gevind. Damon het voortgegaan om haar uit te trek en haar te verkrag terwyl hy ‘n mes teen haar keel gehou het. Toe Damon klaar was, het sy medebeskuldigde Diergaardt aan die beurt gekom om die klaer te verkrag.”
Senokoatsane het verklaar dat die twee beskuldigdes die klaagster op die toneel gelos en haar besittings saamgeneem het.
“Die klaer het die saak daarna by die polisie aangemeld en albei beskuldigdes is gearresteer.”
Senokoatsane het aangedui dat lang vertragings ondervind is voordat die verhoor op 27 November 2023 begin het, weens die Covid-19-pandemie, agterstande by die laboratorium en die dood van die medebeskuldigde – Diergaardt.
“Tydens die ondersoek is vasgestel dat die klaagster voorheen sielkundig getraumatiseer is nadat sy ‘n gebeurtenis oorleef het wat daartoe gelei het dat sy as pasiënt wat aan skisofrenie ly, opgeneem is. As gevolg van hierdie verwikkelinge is sy na ‘n kliniese sielkundige gestuur vir ‘n evaluering. Die evaluering het tot die gevolgtrekking gekom dat die klaer op die vlak van ‘n ligte intellektuele tekort funksioneer. Die sielkundige het verder getuig dat die klaagster op die vlak van ‘n kind tussen die ouderdom van 7-10 jaar funksioneer.”
Senokoatsane het bygevoeg dat die streekhofaanklaer, Basil Kock, probleme ondervind het om met die klaagster te konsulteer weens haar geestestoestand.
“Die aanklaer moes baie hard werk om haar vertroue te wen om die staat se saak te konstrueer, aangesien sy die enigste getuie was van wat op daardie dag gebeur het. Kock het tydens die verhoor die sielkundige trauma wat die klaer gely het en die erns van die oortreding uitgelig.”
Senokoatsane het bygevoeg Damon het verkies om nie te getuig nie, maar het erkenings gemaak waar hy erken het dat hy die klaagster verkrag, haar geld, haar Sassa-kaart en sigarette gesteel het.
“Hy het die rolle erken wat hy en sy medebeskuldigdes tydens die voorval gespeel het. Hy het vertel dat hy na die huis van die klaagster gegaan het om haar om vergifnis te vra, maar dat sy hom weggejaag het.”
Senokoatsane het gesê die staatsaanklaer, Basil Kock, het die sielkundige trauma wat die klaer gely het en die erns van die oortreding beklemtoon.
“In die vonnisoplegging van die beskuldigde het die hof bevind dat daar inderdaad geen wesenlike en dwingende omstandighede was vir die hof om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.”
Hy het verklaar dat die lewenslange vonnis wat vir die verkragting opgelê is en die vonnis van 12 maande vir die diefstalklag gelyktydig sal uitdien.
“Die beskuldigde is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit,” het Senokoatsane bygevoeg.
