Man lewenslank gevonnis vir verkragting

 Man lewenslank gevonnis vir verkragting

Foto: Verskaf @Noord-Kaap SAPD

Sizwe Ntwana (36) is verlede week Donderdag, 14 April in die Noord-Kaapse Hooggeregshof in Kimberley, lewenslank tronk toe gestuur, op klagtes van verkragting.

’n Woordvoerder vir die polisie, Kaptein Olebogeng Tawana het bevestig dat Ntwana aanvanklik skuldig bevind is op twee klagtes wat insluit verkragting en huisbraak.

“Ntwana is as volg gevonnis:

  • Aanklag 1 – Verkragting: Lewenslange gevangenisstraf,
  • Aanklag 2 – Huisbraak: Ses maande gevangenisstraf.”

Volgens die getuienis wat die hof aangehoor het, het dit geblyk dat die slagoffer op 03 Junie 2020 om ongeveer 22:30 in haar huis in Ritchie, naby Modderriver, geslaap het toe Ntwana toegang deur ‘n venster in die huis bekom het.

“Hy het haar die hele nag gyselaar gehou en haar herhaaldelik verkrag. Die slagoffer het losgebreek nadat sy by die beskuldigde gepleit het om haar toe te laat om die badkamer te gebruik. Sy het daarin geslaag om te ontsnap en het na die bure gehardloop om hulp te soek,” het Tawana gesê.

Die verdagte het te voet van die toneel gevlug, toe hy besef die slagoffer se bure soek sy bloed.

Die ondersoekbeampte het al die leidrade opgevolg en Ntwana is op Danielskuil in hegtenis geneem.

“Die DNS-resultate het Ntwana positief met die verkragtingsinsident en huisbraak verbind. Hy was in polisie-aanhouding tot sy vonnisoplegging verlede week”, het Tawana bygevoeg.

Ntwana is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit, en sy naam is in die Nasionale Register van Seksuele oortreders aangeteken.

Bernadine Hearn

Related post