Die provinsiale kommissaris van die Suid- Afrikaansepolisiediens in die Noord-Kaap, luitenant-generaal Koliswa Otola, het op 7 November haar eerste medaljeparade sedert haar aanstelling in Augustus verlede jaar aangebied.

Dit het plaasgevind by die 3 SAI SANW paradegronde in Kimberley.

Die premier van die Noord-Kaap, dr Zamani Saul, die LUR vir vervoer, veiligheid en skakeling, Nomandla Bloem, die LUR vir jeug, vroue, gestremdhede, kommunikasie en e-regering, Venus Blennies, die provinsiale direkteur-generaal was teenwoordig.

Regter Bekebeke, die uitvoerende burgemeesters van die Frances Baard Distrik en Sol Plaatje Plaaslike munisipaliteite, die waarnemende adjunk nasionale kommissaris vir Ondersteuningsdiens, luitenant-generaal L Ntshiea, die provinsiale SAPD-bestuur, ander hooggeplaastes, distrikskommissarisse, stasiebevelvoerders, die Gemeenskapspolisie Raad, SAPD-lede en gemeenskapslede, was ook teenwoordig.

​Luitenant-kolonel Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê Saul het 218 medaljes oorhandig ter erkenning van toegewyde en lojale diens van onderskeidelik 10, 20 en 30 jaar en agt vir dapperheid.

Die verwelkomingstoespraak op die dag is gelewer deur luitenant-generaal Ntshiea, wat gesê het sy is geëerd om ‘n parade van medalje-ontvangers toe te spreek wat “voorbeeldige en lojale gedrag” getoon het tydens hul jare van diens aan die Noord-Kaap en die land as mans en vroue in blou.

Saul en sy gevolg het die parade gïnspekteer voor die lees van die SAPD se Gedragskode deur konstabel A Tithus.

Saul, Nsthiea en Otola het die “voorreg” gehad om die medaljes aan die ontvangers toe te ken.

Onder die ontvangers was die adjunk-provinsiale kommissaris vir misdaadopsporing, generaal-majoor MA Lekhele, wat haar medalje vir 30 jaar se lojale diens ontvang het.

Die provinsiale soek-en-reddingspan het lofprysingsmedaljes ontvang vir dapperheid en hul “uitstaande werk” tydens die Februarie 2021-vloede in die John Taolo Gaetsewe-distrik, “waar hul eie lewens in ernstige gevaar geplaas is om die lewens van ander te red en ook om te verseker dat humanitêre hulp is aan honderde vloedslagoffers gelewer”.

Die hoofrede is gelewer deur Saul, wat die 218 ontvangers geloof het en die merkwaardige prestasies van die SAPD-lede gevier het.

Hy het herhaal dat hul voorbeeldige optrede as ‘n “mylpaal en uitstaande prestasie” beskou word.

Otola het in haar dankbetuiging haar “trots en opregte dankbaarheid” teenoor al die medalje-ontvangers uitgespreek en hulle aangemoedig om voort te gaan om die Gedragskode van die Suid-Afrikaanse Polisiediens toe te pas.

Sy het ook vir Saul, sy gevolg en alle ander hooggeplaastes, SAPD-lede en die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning en bywoning van die medaljeparade.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *