Klagtes van mensehandel teen die twee Zimbabwiese burgers wat 14 ongedokumenteerde kinders van Harare na Kaapstad vervoer het, is vroeër vandeesweek in die Kimberley-landdroshof teruggetrek.

Die beskuldigdes, Beulla Mandpdukudza Maruza en Tafadzwa Otis Nakakurwa, is op 5 Desember 2023 in hegtenis geneem toe die bus waarin hulle gery het by die Engen-garage in Oliverweg in Kimberley stilgehou het.

Hulle was van Midrand na Kaapstad onderweg toe ‘n passasier opgemerk het dat die kinders, wat tussen die ouderdomme van ses en 14 jaar oud was, blykbaar ingetoë, honger en vuil was en geen bagasie saam met hulle dra nie.

Die staatsaanklaer het verklaar dat die Direktoraat van Openbare Vervolging beoog om aanklagte in die Noord-Kaap en Limpopo te sentraliseer.

“Die staat oorweeg dit ook om meer aanklagte by te voeg.”

Regsverteenwoordiger vir Nakakurwa, David Janse van Vuuren, het gesê dat sy kliënt, wat op borgtog uit is, groot ongerief opgedoen het en onkoste aangegaan het om van Kaapstad na Kimberley te reis om die hof by te woon.

“Hy kan nie ’n inkomste verdien wanneer hy nie as bestuurder by die werk is nie. Hy is ‘n Zimbabwiese burger, hoewel hy permanente diens het. Hy het niks om weg te steek nie en is bereid om sy kant van die storie te verduidelik.”

Alle aanklagte teen Nakakurwa is teruggetrek.

Regsverteenwoordiger vir Maruza, advokaat Marcus Mafaro, het aangedui dat indien die mensehandelklag teruggetrek word, sy kliënt in aanmerking kom om borgtog aansoek te doen aangesien die enigste oorblywende aanklag oortreding van die immigrasiewet sou wees.

Hy het beweer dat die beskuldigde die nodige toestemming gekry het om die kinders te vervoer.

Die saak is vir ‘n formele borgtogverhoor in die streekhof uitgestel.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *