Die Noord-Kaapse departement van onderwys moet dringend ingryp en seksuele wangedrag van onderwysers wat van sulke voorvalle beskuldig word, uitroei, het die leier van Build One South Africa (Bosa), Mmusi Maimane, tydens ‘n betoging by die departement se provinsiale kantore gesê.
Mainame en plaaslike party-ondersteuners het vroeër die week ’n memorandum by die departement oorhandig.
In die memorandum sê die party dat tot op hede minstens 15 meisies dade van seksuele geweld aangemeld het wat deur onderwysers en skoolhoofde in die provinsie gepleeg is.
Die memorandum lui verder dat daar 30 gevalle aangemeld is van jong meisies wat deur onderwysers en skoolhoofde in die Noord-Kaap bevrug is.
Maimane het die departement daarvan beskuldig dat hulle ‘n blinde oog oor hierdie voorvalle gegee het en selfs die vermeende oortreders gehuisves wat by sulke dade betrokke is.
Hy het gesê daar is ‘n epidemie van seksuele misbruik van kinders in die provinsie wat uitgeroei moet word.
“Die onderwysstelsel in hierdie land moet dit vir jongmense moontlik maak om opgevoed te word. Daar is ‘n aantal onderwysers wat ernstige aantygings van seksuele aanranding teen ons kinders in die gesig staar.
“Ek is ’n pa . . . Ek stuur my kinders skool toe en verwag van die opvoeders om hulle te beskerm en nie te bevrug nie. Vir ‘n departement van onderwys om bewus te wees van hierdie bewerings, om verslae te versteek, om onderwysers wat roofdiere is te bevorder en na verskeie skole te skuif, is ‘n sekondêre oortreding.
“Ek het die departement sewe dae gegee en eis antwoorde in hierdie verband of ons sal regstappe neem. Hierdie kwessie vereis dat ons die hele departement regoor die land hervorm. Ons veg vir veiligheidsmaatreëls sodat ons kinders nie met skooltasse skool toe gaan en in lyksakke terugkeer nie,” het Maimane gesê.
Maimane het gesê korrupsie het bewys dat dit ‘n groot bydraer is tot die probleme waarmee skole te kampe het.
“Daar is die ‘Jobs for Cash Report’ waar skoolhoofde aangestel word om vir vakbonde te werk en nie vir die skole nie. Die sukses van ‘n skool hang van die skoolhoof af. Die eerste persoon wat bekommerd moet wees en seksuele misdrywe in skole moet beveg, moet die skoolhoof wees.
Maimane het bygevoeg dat maatskaplike uitdagings, soos werkloosheid, dringend aangespreek moet word.
“Geslagsgebaseerde geweld word meestal deur mans gepleeg. Ons moet verseker dat ons huise veilige hawens is. Daarom verhoog dit die stres in daardie huis om nie ‘n inkomste in ‘n huishouding te hê nie en lei dikwels tot geweld. Wanneer jy alkohol met daardie probleem kombineer, word dit nog erger.”
Die provinsiale departement van onderwys het Maimane se aansprake in die memorandum weerlê.
Woordvoerder van die departement, Geoffrey van der Merwe, het gesê dit is ‘n foefie van Maimane om stemme vir die komende verkiesing te kry.
“Die Noord-Kaapse departement van onderwys is diep bekommerd oor die optrede van Bosa, gelei deur Mmusi Maimane. Hulle het ons perseel binnegedring, sonder kennisgewing en ‘n memorandum oorhandig wat ernstige bewerings bevat, wat reeds deur die departement behandel word.
“Dit is jammer dat sommige politieke partye nou politieke kilometers wil wen of dit relevant vir die samelewing wil maak, terwyl die bewerings baie ernstig is en die lewens van gewone mense raak. Alhoewel ons land in die tydperk is van veldtogte vir die komende verkiesings, moet hierdie sake met die grootste respek, waardigheid en sensitiwiteit hanteer word.
“Dit is nie die eerste keer dat ‘n politieke party ons kantore met dieselfde kwessies nader nie. Dit is duidelik dat hierdie partye relevansie in ons gemeenskappe soek om kiesersteun te kry.
“Ons doen ‘n beroep op politieke partye om nou en in die toekoms van soortgelyke aksies af te sien, aangesien dit nie net die situasie vererger nie, maar die potensiaal het vir alle geaffekteerde individue om hul pyn en trauma te herleef.
“Die veiligheid en welstand van ons werknemers is ons eerste prioriteit en daarom is hierdie sake wat aangemeld is, hetsy in die departement of by skole, en óf intern óf ekstern hanteer word,” het Van der Merwe gesê.
