’n Weeklange menseregte-bewusmakingsveldtog het hierdie week in die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit begin, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAHRC).
Die veldtog het gister in Rooiwal en Vioolsdrift afgeskop waar inwoners die geleentheid gehad het om bewusmakingsessies en regsklinieke by te woon. Tydens hierdie sessies kon gemeenskapslede meer leer oor hul grondwetlike regte en ook advies ontvang oor stappe wat gevolg kan word indien hierdie regte geskend word.
Volgens die munisipaliteit is die doel van die inisiatief om veral inwoners in landelike en afgeleë gebiede beter in te lig oor hul regte en die prosesse wat beskikbaar is om klagtes aan te meld. Die regsklinieke bied ook aan inwoners die geleentheid om sake direk by die Menseregtekommissie aan te meld of na toepaslike dienste verwys te word.
Die bewusmakingsveldtog sal na verwagting deur die week voortduur en al nege wyke van die munisipaliteit besoek. Inwoners word aangemoedig om die sessies in hul gebiede by te woon en van die inligtingsgeleenthede gebruik te maak.
