Die skokgolwe van ’n inbraak by Nababeep Hoërskool versprei steeds deur die gemeenskap. Kos van die skool se voedingsprogram en verskeie skoleiendom is tussen 2 en 3 April gesteel en gevandaliseer, en die saak is eers op 8 April by die polisie aangemeld.
Die Namakwa SAPD het ’n ondersoek ingestel vir “huisbraak met die bedoeling om te steel”. Volgens Kaptein Ivan Magerman is daar nog geen arrestasies gemaak nie. Die polisie doen ’n dringende beroep op die publiek om enige inligting te deel met die ondersoekbeampte, Konstabel Edeon Fortuin, by 071 026 9097, die SAPS Crime-stop nommer by 086 001 0111, of via die MySaps-app. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Ondanks navrae deur Radio NFM Nuus het die Departement van Onderwys nog steeds nie kommentaar gelewer nie.
Die skool se Skoolbeheerliggaam (SBL) moedig inwoners steeds aan om saam te staan en die kinders te ondersteun. Skenkings kan gemaak word deur die SBL Voorsitter by 078 579 3052 of 064 096 2718 te kontak.
Die inbraak het ’n dringende herinnering gebring oor die kwesbaarheid van skole en die noodsaaklikheid van samewerking tussen gemeenskap en owerhede om kinders se veiligheid en welstand te beskerm. Die ondersoek deur die SAPD is steeds aan die gang.
