Die Distrikskommissaris van Namakwa, brigadier Schalk Andrews, het sy ernstige kommer uitgespreek oor die toename in padongelukke in die distrik.
Drie ernstige botsings die afgelope naweek op die N7 het vyf mense se lewens geëis, terwyl verskeie ander beseer is.
Brigadier Andrews sê ons paaie het tonele van tragedie geword weens roekelose en onverskillige bestuursgedrag.
Hy wys daarop dat daar veral oor naweke ’n kommerwekkende toename is in jaag, spoed en minagting van verkeerswette op die N7.
Volgens hom sal roekelose bestuur en wetteloosheid op die paaie nie geduld word nie.
Polisie-ondersoeke dui ook daarop dat alkohol ’n groot rol speel in baie van die voorvalle, met dronk bestuur en onverantwoordelike passasiers wat gevaarlike toestande skep.
Brigadier Andrews doen ’n dringende beroep op alle padgebruikers, motoriste én voetgangers, om verantwoordelik op te tree.
Padgebruikers word versoek om spoedbeperkings te gehoorsaam, roekelose gedrag te vermy, nooit onder die invloed van alkohol te bestuur nie en seker te maak dat alle passasiers nugter en verantwoordelik is.
Die polisie in die Namakwa-distrik sal, saam met ander wetstoepassingsagentskappe, padveiligheid prioritiseer en streng wetstoepassing op alle roetes na en uit die distrik toepas.
’n Nultoleransiebenadering sal gevolg word, en niemand sal bo die wet staan nie.
Intussen word die gemeenskap gevra om saam met die owerhede te werk om die paaie veiliger te maak.
As reaksie op die onlangse sterftes.



