NFM Nuus het met haar luisteraars en gemeenskapslede gesels om hulle gevoel te kry oor wat hulle verwag President Cyril Ramaphosa in die staatsrede vanaand moet aanraak.
Die meerderheid het saam gestem dat daar ‘n daadwerklike oplossing vir die onophoudelike beurtkrag verkry moet word.
Behalwe dat dit ongemaklik is, raak dit die ekonomie, mense verloor hul werke, maatskappye gaan nie lank kan floreer onder die druk nie en al hoe meer lewens gaan verlore in die hospitale.
Daar word dus gemaan op ‘n meer duidelike en implementeerbare plan vir ESKOM.
In terme van plaaslike regering; munisipaliteite het ineengestort, sy finansies is aan skerwe, daar is nie eers watervoorsiening nie, en dit is ‘n basiese mensereg wat gewaarborg moet word.
Munisipaliteite het ‘n voedingsgrond vir korrupsie geword met die ouditeur generaal wat munisipaliteite jaarliks daaraan herinner, dat amptenare nie bevoeg is om hul pligte uit te voer nie, wat die funksies van munisipaliteite ondermyn soos voorgeskryf in die grondwet.
‘n Gedetailleerde plan van hoe hierdie probleem opgelos gaan word, moet gedeel word.