Onwettige mynbedrywighede in die Namakwa-distrik het onlangs opslae gemaak toe die plaaslike polisie in samewerking met die provinsiale polisiebestuur, die misdrywe aanspreek.
Die Provinsiale Kommissaris van die Noord-Kaap, Luitenant generaal Koliswa Otola het ‘n drie-in-een gesamentlike multidissiplinêre operasie uitgevoer, met die hooffokus op onwettige mynbou by Nuttabooi, Bontekoei en die dorp Kleinsee.
Die operasies is gelei deur die Adjunk Nasionale Kommissaris vir Polisiëring, Luitenant generaal Tebello Mosikili, Otola, senior beamptes van die Nasionale en Provinsiale Bestuur en die Namakwa-distriksbevelvoerder, Brigadier Schalk Andrews.
Die multidissiplinêre operasie is in die Namakwa-omgewing uitgevoer en het onwettige diamantmyners ‘n harde slag toegedien na ‘n misdaadintelligensie-gedrewe operasie, wat oor drie dae uitgevoer is, vanaf 13 Januarie 2023 tot 16 Januarie 2023.
‘n Woordvoerder vir die polisie, Kolonel Mashay Gamieldien het bevestig dat altesaam 82 persone vir verskeie misdrywe in hegtenis geneem is.
“Die operasie het gefokus op onwettige mynbedrywighede in die Port Nolloth- en Kleinsee-gebiede waartydens beslag gelê is op talle graaftoerusting en -implemente, insluitend kragopwekkers, figuursae en kraggereedskap asook sakke diamantdraende gruis,” het Gamieldien gesê.
Verskeie polisiestasies en -eenhede binne die Namakwa-distrik, Provinsiale komponente en gespesialiseerde eenhede het deelgeneem aan die operasie, met die bystand van Immigrasiebeamptes wat op die terrein was om die ongedokumenteerde persone te verwerk.
Op 15 Januarie 2023 is verskeie vermeende dwelmhuise in Okiep, Nababeep, Steinkopf en Concordia toegeslaan waartydens drank gekonfiskeer en ‘n boete aan die eienaar uitgereik is.
Die plaaslike verkeersdepartement het die polisie bygestaan tydens ‘n statiese padblokkade wat op 16 Januarie 2023 op die N7 tussen Springbok en Steinkopf uitgevoer is, waartydens 268 voertuie voorgekeer en deursoek is en verskeie verkeersboetes vir verkeersoortredings uitgereik is.
Twee manlike verdagtes van onderskeidelik 31- en 23-jaar oud is by die padblokkade in hegtenis geneem, nadat hulle in besit gevind is van dagga met ‘n geraamde straatwaarde van R30 000-00. Die twee sal binnekort in die Springbok-landdroshof verskyn.
Vier-en-sewentig (74) ongedokumenteerde persone is in hegtenis geneem vir die oortreding van die Immigrasiewet, vyf (5) vir betreding, 1 vir die besit van ‘n ongeslypte diamant en 2 vir handel in dagga.
Alle verdagtes sal onderskeidelik in die Port Nolloth- en Springbok-landroshowe verskyn. Die ongedokumenteerde persone sal na die Lindela Holding-fasiliteit in Krugersdorp begelei word, vir repatriasie na hul onderskeie land van herkoms.
Polisiehelikopters van die Wes-Kaap, Gauteng en die Vrystaat het die grondmagte met lugondersteuning bygestaan deur lede op die grond na teregstellingspunte in die myngebied te rig.
Kuspatrollies is met die 7,8 meter Ballistic Rubber-eend langs die Port Nolloth/Alexanderbaai-kuslyn uitgevoer.
Lugpatrollies is ook langs die RSA/Namibiese grens langs die Oranjerivier geloods.
Die Provinsiale Kommissaris, lt.genl. Otola het die multi-dissiplinêre taakspan wat die ontwrigtende aksies uitgevoer het, geloof en aangedui dat hierdie ontwrigtende aksies ‘n duidelike boodskap aan onwettige mynwerkers gestuur het.
“Verontagsaming van die wet nie geduld sal word nie, en voortdurende aksies in die provinsie sal seëvier,” het sy gesê.












