Die kantoor van die Openbare Beskermer in die Noord-Kaap het bevestig dat hy ‘n klag ontvang het oor bewerings van onbehoorlike gedrag en wanadministrasie wat verband hou met beweerde onreëlmatighede in die werwing en keuring van verkeersbeamptes deur die provinsiale departement van vervoer, veiligheid en skakeling.

Die Vereniging van Staatsamptenare het die aanstelling van 50 verkeersbeamptes in Januarie bevraagteken, waar slegs 25 poste geadverteer is.

Die vakbond het verklaar dat daar telefonies onderhoude gevoer is met die suksesvolle kandidate en geen sekuriteitsondersoeke of behoorlike ondersoek is uitgevoer nie.

Dit het ook alarm gemaak oor moontlike nepotisme, na drie lede van dieselfde huishouding, politieke affiliasies, vriende en familielede na bewering voorkeur gegee is.

Daar is verder beweer dat toelaes vir die leerlinge R4,2 miljoen per jaar sal beloop en R12,1 miljoen sal aan die verkeersopsigters betaal word terwyl hulle op proef is.

Die provinsiale verteenwoordiger vir die kantoor van die openbare beskermer, Mlungisi Khanya, het vandeesweek gesê die klagte is nog in die assesseringstadium.

“Daar moet vasgestel word of die aangeleentheid onder die jurisdiksie van die Openbare Beskermer val en of die klaer alle interne middels binne die departement uitgeput het voordat hy die saak met die Openbare Beskermer geopper het. Sodra hierdie proses afgehandel is, sal die klaer in kennis gestel word van die volgende optrede in ooreenstemming met die Openbare Beskermer-reëls,” het Khanya gesê.

Hy het bygevoeg dat die klaer voor die einde van die week in kennis gestel sal word van die uitslag van die assesseringsproses.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *