“Die beskerming van die Noord-Kaapse Oseaan-omgewing teen alle onwettige aktiwiteite is die prioriteit van die Suid- Afrikaanse Polisiediens, en ook om ‘n beter lewe vir alle burgers te verseker,” het kolonel Herlan Coghlan, die provinsiale bevelvoerder vir grenspolisiëring gesê.
Coghlan het die Operasie Phakisa multi-dissiplinêre parade toegespreek, wat op 18 Mei 2023 begin het en afgesluit het op 21 Mei 2023.
Die uitvoeringsgebied het Kleinsee, Groenrivier, Alexanderbaai en Hondeklipbaai ingesluit.
“Operasie Phakisa-aktiwiteite is daarop gefokus om onwettige aktiwiteite met betrekking tot mariene verwante misdade aan te spreek, deur streng nakoming van die voorgeskrewe regulasies te moniteer en te verseker, asook om die oes en stropery van mariene hulpbronne te voorkom, insluitend knoeiery of skade aan noodsaaklike infrastruktuur wat aansienlike ekonomiese verliese tot gevolg het,” het die Noord- Kaapse polisiewoordvoerder Sersant Timothy Sam op sy beurt gesê.
Die operasies is uitgevoer onder die algehele bevel van Kolonel Herlan John Coghlan, die provinsiale bevelvoerder vir grenspolisiëring, wat ondersteun was deur verskillende belanghebbendes.
Die departement van bosbou, visserye en die omgewing, die departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, die departement van water en sanitasie, die departement van minerale bronne en energie, die SAID se doeane-eenheid en SANPARKE het aktief deelgeneem aan die beplande ontwrigtingaksies.
Sam het gesê dat aksies en aktiwiteite wat uitgevoer was, nakomingsinspeksies, voertuigkontrolepunte (VCP’s), stop-en-deursoekingsoperasies, voetpatrollies langs die kusgebiede en klopjagte by geïdentifiseerde huise vir onwettige dwelms en ander kommoditeitsmokkelary ingesluit het.
Ses voertuigkontrolepunte is op die Port Nolloth / Alexanderbaai-pad en die Port Nolloth / Kleinzee-pad uitgevoer, waartydens 125 voertuie en 360 persone gestop en ondersoek was.
‘n Goeie aantal operasionele suksesse is behaal, naamlik;
• Nege visvangpermitte is geïnspekteer by hawens, kampeerterreine, lanseerplekke en besighede wat deur die multi-dissiplinêre wetstoepassers besoek was. ‘n Boete ter waarde van R5 000 is uitgereik vir die oortreding van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne.
• Verkeersboetes met ‘n totaal van R3 800 is uitgereik.
• Die span het beslaggelê op dagga, mandrax en metamfetamien/Tik ter waarde van R1 300. ‘n Bykomende R1 209 kontant is ook gekonfiskeer, wat glo die opbrengs van dwelms is.
• Ses verdagtes is vir handeldryf in hegtenis geneem en in besit gevind van dwelms.
• Wetstoepassers het tydens die stop- en deursoekingsaktiwiteite, blou-kant agaatklippe ter waarde van R166 000 in ‘n voertuig gevind. Die bestuurder kon nie ‘n redelike verduideliking aan die polisie verskaf nie. Die klippe is gekonfiskeer en ‘n ondersoeksaak is geopen vir verdere ondersoek.
“Die geïntegreerde benadering tot misdaadbekamping, insluitend die betrokkenheid van die publiek deur die Gemeenskapspolisieforums (GPF’s), lewer altyd positiewe resultate in die bou van veiliger gemeenskappe,” het Sam mee afgesluit.




