Die 18-jarige student van Okiep, Ethan Faber, is besig om opslae te maak in die rugbywêreld, terwyl hy tans besig is om hom voor te berei vir ‘n belangrike mylpaal in sy sportloopbaan.
Faber, is in graad 12 by Hoërskool Namakwaland, sy liefde vir rugby het daartoe gelei dat hy geskies is om deel te wees van ‘n toerspan wat later vanjaar na Ierland sal reis.
Sy sportreis het in sy laerskooldae begin, waar hy in krieket en atletiek uitgeblink het.
Sy bekwaamheid op die krieketveld het hom provinsiale kleure besorg.
Vandat hy in graad 8 by Hoërskool Namakwaland aangesluit het, het sy fokus verskuif na rugby.
In 2022 het hy ‘n groot mylpaal behaal deur vir die Griekwa o/16 Grant Khomo-span gekies te word, maar ondanks terugslae in 2023 en 2024 weens beserings, het sy passie vir rugby nogsteeds bly groei.
Die keerpunt vir Faber was tydens die Patriots Renosterrugbykompetisie wat in Maart 2024 in Kaapstad plaasgevind het .
Dié kompetisie, waaraan skole van die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Noord-Kaap deel geneem het, is ‘n sleutelplatform vir talentidentifikasie.
Faber het die oog van die keurders gevang, wat gelei het tot die insluiting in die elite-toergroep.
Die span, bestaande uit 40 spelers, sal van 21 tot 29 September 2024 die toer na Ierland meemaak.
Hierdie toer bied ‘n unieke geleentheid vir die jong atlete om teen Munster Rugby se ontwikkelingspanne mee te ding en by van die wêreld se beste afrigters te leer.
Die jongman se primêre doelwit is om sy rugbyvaardighede onder leiding van topafrigters te verfyn.
Die blootstelling aan internasionale kompetisie en die kans om teen hoëkaliberspanne soos Munster se ontwikkelingspanne mee te ding, word as van onskatbare waarde vir sy groei as speler beskou.
“Toe ek die eerste keer hoor dat ek vir die span gekies is, was ek ongelooflik opgewonde en trots. Dit is ‘n betekenisvolle erkenning van my harde werk en toewyding,” het Faber gesê.
Die keuringsproses was ‘n deursigtige en merietegebaseerde stelsel wat fokus op die spelers se prestasie en bydrae tydens wedstryde.
Vir hom was die proses eenvoudig, wat hom in staat gestel het om op sy spel te fokus eerder as op die ingewikkeldhede van keuring.
Faber se langtermynambisie is om sy rugbyloopbaan tot hoër vlakke te verhef en uiteindelik ‘n beduidende impak in professionele rugby te maak.
Hy is gretig om sy vaardighede en kennis met plaaslike spelers te deel en dra by tot die groei van rugby in sy gemeenskap.
“In die komende seisoene sien ek my rol as een van leer en ontwikkeling. Hierdie toer is ‘n kans om blootstelling aan groter rugbyunies en akademies te kry,” het Faber bygevoeg.
St fokus om sy graad 12-eksamen te voltooi en balanseer sy akademiese verantwoordelikhede met sy rugbyverpligtinge.
Ná die toer is sy plan om met sy akademiese studies voort te gaan terwyl hy sy rugbyopleiding en prestasie behou.
Vir diegene wat na hom opkyk, is Faber se raad eenvoudig: “Bly nederig en gee altyd jou beste.”
Sy reis dien as ‘n inspirerende voorbeeld van hoe toewyding, harde werk en deursettingsvermoë tot opwindende geleenthede kan lei.
Terwyl Ethan Faber voorberei vir sy reis na Ierland, kyk die rugbygemeenskap gretig daarna uit vir sy groei en bydraes tot die sport.
Sy verhaal is ‘n bewys van die belonings van toewyding en die potensiaal wat voorlê vir jong, aspirant-atlete.
