Pa kry lewenslange tronkstraf na hy sy dogter verkrag het

 Pa kry lewenslange tronkstraf na hy sy dogter verkrag het

Foto: Verskaf @ D/Cst Fransisca Louw

So wild en ontstuimig soos die Port Nolloth branders kan raak, só het die kusdorp se atmosfeer hom verlede Vrydag afgespeel.

Dit kom nadat ‘n man van die dorp al vir sowat vyf jaar sy eie dogter seksueel gemolesteer het.

Die polisie in die Namakwa-distrik het die vonnisoplegging verwelkom wat verlede week in die Port Nolloth landdroshof uitgespreek is.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Luitenant-kolonel Sergio Kock het bevestig dat die polisie op 3 April 2020 ‘n klag ontvang het van ‘n 14-jarige dogtertjie, wat beweer het dat sy vanaf die ouderdom van nege deur haar biologiese pa verkrag en seksueel aangerand is.

“Die beskuldigde is twee dae later op 4 April 2020 in hegtenis geneem.”

Die polisie het borgtog teengestaan en die beskuldigde het in aanhouding gebly tot sy vonnisoplegging verlede week.

“Die beskuldigde is tesame met sy lewenslange gevangenisstraf, ‘n verdere 10 jaar opgelê vir seksuele aanranding.”

Die beskuldigde is verder onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en sy naam is in die Nasionale Register van Seksuele Oortreders aangeteken.

Bernadine Hearn

Related post