Potensïeel gevaarlike voedselprodukte ter waarde van na raming een miljoen rand is van die rakke van ‘n Upington-groothandelaar verwyder en vernietig tydens ‘n polisie-operasie.
Die operasie is Maandag deur ‘n gesamentlike poging deur lede van die Upington-grenspolisie, die Paballelo SAPD en die departement van gesondheid uitgevoer.
Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Omphile Masegela, het gesê die fokus is op vervalste en verouderde voedselprodukte wat gesondheidsgevare vir verbruikers kan inhou.
Sy het verduidelik dat die amptenare van die departement van gesondheid, met die hulp van die polisie, verskeie voedselitems geïnspekteer het om die vervaldatums te verifieer.
Masegela het ‘n streng waarskuwing aan verspreiders en winkeleienaars gerig om te alle tye voedselveiligheid te handhaaf.
Verbruikers word ook daaraan herinner om versigtig te wees en die vervaldatums te lees voordat hulle voedselitems koop.
