’n Assistent-meester van die hooggeregshof in Kimberley, Method Gqetywa (48), is skuldig bevind op ’n aanklag van korrupsie nadat hy ’n bevrediging ten bedrae van R15 000 van klaers aanvaar het om die boedel van ’n oorledene wat aan die klaers bekend is, te verwerk.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se streekwoordvoerder vir die Noord-Kaap, Mojalefa Senokoatsane, het gesê Gqetywa is tot sewe jaar gevonnis waarvan drie vir vyf jaar opgeskort is.

“Die beskuldigde is in hegtenis geneem tydens ‘n Artikel 252 (buy-and-bust) operasie, toe hy R15 000 kontant aangevra en aanvaar het om in te meng met die administrasie van ‘n boedel,” het Senokoatsane gesê.

“Op 4 Julie 2019 en 18 Julie 2019, toe die beskuldigde in diens van die meester van die hooggeregshof was, en as assistent-meester gewerk het, het hy bevrediging ten bedrae van R15 000 van die klaers aanvaar ten einde die boedel van ‘n oorledene wat aan die klaers bekend is. Die beskuldigde, in plaas daarvan om sy pligte uit te voer soos bepaal, dat hy as staatsamptenaar eerlik, betroubaar en professioneel moet wees, het op ‘n wyse opgetree wat onwettig, onbetroubaar en ongemagtig was deur die geld te aanvaar.

“Die aangeleentheid is by die polisie aangemeld en na ‘n beknelling gelei deur die polisie, is die beskuldigde gearresteer en van korrupsie aangekla.

“Tydens die verhoor het senior staatsadvokaat Wilhelmus Els, van die Gespesialiseerde Handelsmisdaadeenheid (SCCU), aangevoer dat ‘n duidelike boodskap aan ander voornemende oortreders in die staatsdiens gestuur moet word, dat die regstelsel ernstig is oor die bekamping van korrupsie en bedrogverwante sake, veral binne die openbare sektor. Advokaat Els het die belangrikheid daarvan beklemtoon dat die hof die beskuldigde tot direkte gevangenisstraf gevonnis vir sy indiskresies omdat hy vertrou is met ‘n baie belangrike werk om die mense te dien en hy het daardie vertroue verraai deur die geld te aanvaar om sy pligte uit te voer.

“In vonnisoplegging het die hof met die staat saamgestem. Die beskuldigde is skuldig bevind, op een aanklag van korrupsie en tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan drie vir ’n tydperk van vyf jaar opgeskort is.”

Senokoatsane het gesê die NVG hoop dat die vonnis ‘n afskrikmiddel vir ander moontlike oortreders sal wees.

“Die NVG loof die aanklaerspan en die kollegas in die Valke dat hulle ‘n skuldigbevinding oor hierdie aangeleentheid gekry het. Daar word gehoop dat hierdie vonnis ‘n duidelike boodskap aan ander oortreders van korrupsie en bedrog sal stuur dat die NVG en wetstoepassingsagentskappe inderdaad ernstig is oor die bekamping van misdaad.”

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *