Die Noord- Kaapse provinsiale kommissaris van die SAPD, luitenant-generaal Koliswa Otola, en die waarnemende adjunk-provinsiale kommissaris vir korporatiewe dienste, majoor-generaal Thabo Mphuthi, het mediese toerusting, sorgpakkies en leesmateriaal aan pasiënte in die onkologie-afdeling oorhandig by Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) Dinsdag (12 Maart 2024 ) in Kimberley.
Die skenkings is die opbrengs van ’n 10 kilometer lange “pienk en blou” pretstap wat in November verlede jaar in Kimberley gehou is ten bate van kankerbewusmaking.
Polisiewoordvoerder luitenant-kolonel Sergio Kock sê die staptog is aangebied in samewerking met die SAPD Vrouenetwerk, Men for Change, die Departement van Gesondheid, die Gemeenskapspolisiëringsforum, die Departement van Vervoerveiligheid en Skakeling, die Departement van Korrektiewe Dienste, die Suid- Afrikaanse Nasionale Weermag , en die provinsiale SAPD-bestuur, provinsiale komponente en stasies binne die groter Kimberley-gebied.
“Luitenant-generaal Otola het die hospitaal geloof vir die uitstekende werk wat hulle doen om die gemeenskap te dien,” het Kock gesê.
“Die waarnemende hoof uitvoerende beampte van RMSH, dr. Esme Olivier, het die SAPD en ander relevante belanghebbendes geloof vir hul vrygewigheid.”
Kock het bygevoeg dat die SAPD Vrouenetwerk lekkernye aan pasiënte en personeel by die onkologiesaal uitgedeel het.
