Vedanta myn gee ekonomiese hupstoot aan die Noord-Kaap

 Vedanta myn gee ekonomiese hupstoot aan die Noord-Kaap

Foto: Verskaf

Vedanta Zinc International, wat besigheid doen in Namakwaland, het onlangs ‘n groot skenking aan die Premier van die Noord Kaap, Zamani Saul oorhandig.


Hierdie belegging maak voorsiening vir groot ekonomiese geleenthede in die provinsie.

Saul het die belegging van R7 miljard, wat Vedanta Zinc International (VZI) in die Gamsberg Fase 2-projek gemaak het, verwelkom.

Die Woordvoerder vir die Premierskantoor, Bronwyn Thomas-Abrams, het gesê die belegging vorm deel van die tweede fase, van die R21 miljard-verbintenis wat deur VZI beloof is by die eerste beleggingskonferensie wat in 2019 in Gauteng gehou is.

Sy sê dat die belegging die plaaslike gemeenskap aansienlik sal bevoordeel en verskaffer- en ondernemingsontwikkeling sal verbeter.

Volgens Thomas-Abrams voorspel die belegging die vermindering van armoede en werkloosheid in die provinsie.

“Dit sal positief bydra tot die provinsiale regering se visie van ‘n moderne, groeiende en suksesvolle provinsie”, het sy gesê.

Sy sê dat tussen 2000 tot 2500 werksgeleenthede tydens die konstruksie geskep sal word, en tussen 800 tot 1000 permanente poste beskikbaar sal wees, as die projek voltooi is.

Sy sê dit sal bykomend wees tot die 2700 mense wat alreeds deur hierdie projek in diens geneem is.

OFM-nuus het vroeër verslag gedoen dat die LUR vir onderwys, Zolile Monakali, kommer uitgespreek het oor die vlak van werkloosheid in die provinsie.

Monakali het gesê dat meer gedoen moet word om werk- en sakegeleenthede vir die jeug te skep.

Bernadine Hearn

Related post