Dit is met groot hartseer dat Vedanta Zinc International (VZI) bevestig dat ‘n werknemer noodlottig beseer is ná ‘n mynverwante voorval by sy Black Mountain Mining: Swartberg-ondergrondse bedrywighede in Aggeneys, in die vroeë oggendure van Maandag (1 April 2024).
Chris Griffith, Vedanta Base Metals hoof uitvoerende beampte, het gesê Vedanta is ongelukkig na hierdie noodlottige voorval aangesien die veiligheid van alle werknemers die maatskappy se prioriteit is: “Ons is hartseer oor hierdie tragiese gebeurtenis. Die gesondheid en veiligheid van alle kollegas, direk en indirek, is ons hoogste prioriteit en ons neem elke inisiatief om te verseker dat alle kollegas elke dag veilig werk toe kom en huis toe gaan.”
Intussen het Vedanta Zinc International alle mynaktiwiteite by die Swartberg-myngebiede gestaak om die veiligheid van mynwerkers te verseker en om ‘n volledige ondersoek na die oorsaak van die voorval moontlik te maak.
Traumaberading is tans aan die gang vir alle werknemers wat deur hierdie noodlottige voorval geraak word.
Griffith het afgesluit: “Ons fokus is daarop gemik om te verseker dat al ons mense veilig terugkeer huis toe na hul families en dat elke inisiatief geneem word om “Zero Harm” en geen lewensverlies te verseker nie. Ons gedagtes en gebede is met Mnr. Tulungani se familie, vriende en kollegas gedurende hierdie tyd van rou.”
