‘n 37-jarige man is gister-middag by die Springbok-taxistaanplek in die Noord-Kaap in hegtenis geneem nadat polisie vermoedelik dwelms in sy besit gevind het.
Volgens die SAPD was lede van die Openbare Orde Polisiëringseenheid op voetpatrollie in die sentrale sakekern toe hulle inligting ontvang het oor ‘n persoon wat na bewering dwelms by die taxistaanplek gehad het. Beamptes het vinnig op die wenk gereageer en die verdagte aangekeer.
Dwelms met ‘n geskatte straatwaarde van R1 602 is tydens die operasie beslag gelê. Die man staan tereg op ‘n aanklag van die besit van dwelms.
Die polisie in die Namakwa-distrik sê hulle bly daartoe verbind om dwelmverwante misdaad hok te slaan en moedig gemeenskapslede aan om inligting oor onwettige dwelmaktiwiteite aan te meld.
