‘n Verwoestende brand het Sondagmiddag (08/09/2024) by ‘n werkswinkel in Amakhuzenistraat in Galeshewe uitgebreek en ‘n spoor van vernietiging gelaat terwyl meer as 10 voertuie wat op herstelwerk wag, heeltemal vernietig is.
Die vuur het omstreeks 14h00 die middag ontstaan wat gelukkig deur ‘n groep kinders raakgesien was, wat in ‘n parkie naby die werkswinkel gespeel het.
Die kinders het alarm gemaak om aandag op die brand te kan vestig.
Die eienaar en werktuigkundige van die werkswinkel, het na die toneel gehaas nadat hy van die ramp in kennis gestel is.
Terwyl dik rook in die lug opborrel, het besorgde gemeenskapslede geen tyd gemors om tot aksie oor te gaan nie.
Met geen formele brandbestrydingstoerusting nie, het hulle saamgewerk en enigiets beskikbaar gegryp om die woedende vlamme te probeer blus terwyl hulle angstig gewag het vir die brandweer en polisie om op te daag.
Daar was geen beserings aangemeld nie, en ondanks die verwoesting het die meeste motoreienaars wat by die werkswinkel aangekom het, ‘n sug van verligting geslaak toe hulle hul voertuie ongedeerd deur die brand gevind het.
