Die multidissiplinêre spanne van operasie Vala Umgodi in die Namakwa-distrik, het vier verdagtes tussen 53 en 23 jaar oud in hegtenis geneem vir beweerde onwettige jag Saterdag (14 September 2024).
Die span het gereageer op inligting oor onwettige mynbedrywighede wat by Weskus se wildvertrek plaasvind, toe hulle ‘n groen Mitsubishi Colt-bakkie gewaar wat wegjaag het toe die insittendes die polisie sien nader kom.
“Lede van die taktiese reaksiespan het hulle agternagesit en die voertuig is tot stilstand gebring. Met die deursoeking van die voertuig is ‘n karkas van ‘n Rooibok, asook drie jaggewere gevind en verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die vier verdagtes geen jagpermit gehad het nie, en dat die plaaseienaar geen kennis dra van mense wat op sy plaas jag nie,” het Noord- Kaapse woordvoerder Sersant Merapelo Pilane gesê.
Hulle sal na verwagting vandag, in die Port Nolloth-landdroshof verskyn.


