’n Noord-Kaapse boer wat daarvan aangekla word dat hy twee van sy vriende wat hom besoek het, doodgeskiet en vermoor het, het Dinsdag (7 November 2023) in die Springbok-landdroshof verskyn.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die verskyning van Jacobus “Japie” Dawid Claassens bevestig.

Die 59-jarige staan tereg op twee aanklagte van moord ná ‘n skietvoorval op sy kleinhoewe in Vioolsdrif op 30 Oktober omstreeks 04:30.

Provinsiale polisiewoordvoerder, kolonel Cherelle Ehlers, het gesê daar word beweer dat vier mans by hul vriend kom kuier het.

“Gedurende die vroeë oggendure het bure geweerskote gehoor en na die kleinhoewe gegaan om ondersoek in te stel.

“Met aankoms het die eienaar van die kleinhoewe na bewering erken dat hy twee mans geskiet het en wou homself aan die polisie oorgee.”

Een van die slagoffers het geslaap toe hulle geskiet is.

Ehlers sê die polisie het dadelik op die toneel opgedaag en die twee beseerde mans gevind wat per ambulans hospitaal toe vervoer is.

Die slagoffers, wat vermoedelik van Kaapstad is en 54 en 56 jaar oud is, is op 1 November in die hospitaal dood.

Die polisie het gesê Claassens is in hegtenis geneem en het op 31 Oktober sy eerste verskyning in die hof gemaak en bygevoeg dat die omstandighede rondom die skietery onbekend is.

Die saak is uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek.

Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, het oor Dinsdag se verrigtinge in die hof gesê die saak is tot 15 November uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek.

“Die aanklaer sal die borgtogaansoek teenstaan. Die beskuldigde is in aanhouding,” het Senokoatsane gesê.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *