Voormalige LUR vir onderwys, Zolile Monakali, is as politieke adviseur in die private kantoor van die Premier aangestel.
Terwyl hy op nommer 13 op die ANC se provinsie-tot-provinsie-lys ingesluit is, is Monakali nie as lid van die provinsiale wetgewer (LPW) ingesweer nie.
Die woordvoerder van die kantoor van die premier, Bronwyn Thomas-Abrahams, het gesê Monakali sal die premier bystaan om dienslewering in die provinsie te versnel.
Sy het gesê Monakali het sy professionele loopbaan as ‘n opvoeder in 1994 begin en het verskeie bestuursposte in plaaslike en provinsiale regering van 2003 tot 2020 beklee.
“Hy het van 2020 tot 2021 as die uitvoerende burgemeester van die Pixley ka Seme-distrik gedien. Politieke opvoeding en bewussyn is ‘n integrale deel van sy identiteit. Hy was van jongs af ‘n politieke aktivis en het leiersrolle op tak- en streeksvlak beklee. Hy is in 2013 as die ANC-streekvoorsitter van die Pixley ka Seme-distrik aangestel. Hy is in 2021 verkies om op die ANC provinsiale uitvoerende komitee te dien.”
Thomas-Abrahams het bygevoeg dat Monakali ‘n sekondêre onderwysdiploma, ‘n BTech-graad in onderwysbestuur, ‘n nagraadse diploma in openbare bestuur en ‘n Meestersgraad in openbare administrasie het.