Dr. Izak van Niekerk Laerskool in Bergsig spog deesdae met ‘n splinternuwe opgegradeerde rekenaarsentrum.
Die fasiliteit was gedoen deur Syntell Revenue Systems.
As deel van Syntell Revenue Systems se korporatiewe sosiale verantwoordelikheid, gradeer hulle graag rekenaarsentrums op in areas waar hulle ‘n diensverskaffer is.
Dié keer was dit Nama-Khoi munisipale area se beurt en gevolglik Dr. Izak van Niekerk Laerskool se oorwinning.
Die rekenaarsentrum sal leerders vanaf graad R tot 7 in staat stel om rekenaarvaardighede in die vierde industriële rewolusie aan te wakker.
Dr. Izak van Niekerk Laerskool spog met 20 nuwe plat rekenaarskerms en lyk die rekenaarlokaal nou sommer meer modern en statig.
Klasse wat bestaan uit leerders met spesiale behoeftes, sal ook baatvind by die sentrum en sal eersdaags konfyt wees om op ‘n rekenaar te werk.
Die Namakwa Civic Movement bedank graag alle rolspelers wat tot die projek bygedra het, in besonder die algemene bestuurder, mnr. Zahir Lalla van Syntell Revenue Systems, vir hul aktiewe en vrywillige bydrae tot die verbetering van ons samelewing.
Mag al die leerders die boustene wat hul by Dr. Izak van Niekerk Laerskool kry, gebruik sodat hul toekomsdrome waar kan word, en hulle studente van die lewe bly.




