Die Mothibistad-streekhof het lewenslange tronkstraf opgelê aan die 43-jarige Obakeng Kopeledi, wat skuldig bevind is aan die verkragting van ‘n 11-jarige meisie in die Kagung-dorpie, Kuruman.
Die voorval het op 5 Desember 2015 plaasgevind toe die meisie en haar broer flieks by Kopeledi se woning gekyk het.
Sersant Timothy Sam, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê Kopeledi het die meisie herhaaldelik verkrag nadat hy vir haar broer gesê het om ‘n paar items by ‘n snoepie te gaan koop.
“Die meisie het haar suster vertel van wat gebeur het en dit is by die polisie aangemeld,” het Sam gesê.
Hy het bygevoeg dat Kopeledi op 8 April tot lewenslange tronkstraf gevonnis is, terwyl sy naam in die nasionale register vir seksoortreders aangeteken sal word.
“Hy is ook onbevoeg verklaar om met kinders te werk en om ’n vuurwapen te besit.”
Die Noord-Kaapse provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Koliswa Otola, het die ondersoekbeampte, speurkonstabel Lorato Badukane van die Kuruman-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, toegejuig vir haar “deeglike ondersoekwerk, wat verseker het dat geregtigheid vir GBVF-slagoffers gedien word.”
