‘n Delegasie van Radio NFM het op Maandag, 05 Desember 2022 die sooispitprojek van Suid-Afrika se eerste moderne radioteleskoop, buite Carnavon in die Noord-Kaap bygewoon. Die Square Kilometer Array Observatory – SAKO beloof om groot ekonomiese geleenthede vir onder andere, Carnavon, Branvlei, Van Wyksvlei en ook die breë Noord-Kaap inhou.
Die SKA-sterrewag is ‘n volgende generasie radio-astronomiegedrewe data-fasiliteit, wat ons begrip van die Heelal en die wette van fundamentele fisika sal rewolusioneer. Aangedryf deur die nuutste tegnologie, beloof dit om ‘n groot impak op die samelewing te hê, in die wetenskap en verder.
Die teleskope sal twee verskillende frekwensiereekse dek, en is vernoem om dit te weerspieël. SKA-Mid, ‘n reeks van 197 tradisionele skottelantennas, word in Suid-Afrika se Karoo-streek gebou, terwyl SKA-Low, ‘n reeks van 131 072 kleiner boomagtige antennas, in Wes-Australië op die tradisionele lande van die Wajarri Yamaji gebou word.
Tydens Maandag se seremonies by beide terreine in Carnavon, Suid-Afrika en Australië het die SKA-sterrewag die begin van die konstruksie van sy wêreldleier radioteleskope gevier en €300 miljoen se konstruksiekontrakte aangekondig.
Die SKAO se direkteur-generaal, prof. Philip Diamond, het na Wes-Australië gereis om die Sterrewag op die terrein van die toekomstige SKA-Low-teleskoop te verteenwoordig. Die raad sevoorsitter, Dr. Catherine Cesarsky het die geleentheid in Carnavon bygewoon waar die SKA-Mid teleskoop geleë sal wees.
In haar toespraak het Dr. Cesarsky gesê: “Die SKA-projek is baie jare in wording. Vandag kom ons hier bymekaar om nog ‘n belangrike hoofstuk te merk in hierdie 30 jaar lange reis wat ons saam was. ‘n Reis om die wêreld se grootste wetenskaplike instrument te lewer. Na 18-maande van intense aktiwiteite regoor die wêreld, begin ons uiteindelik met die bou van die SKA-teleskope.”
Oor die afgelope 18-maande is meer as 40 kontrakte ter waarde van meer as €150 miljoen deur die sterrewag aangegaan.
Maandag is groot nuwe konstruksiekontrakte ter waarde van meer as €300 miljoen by die seremonies aangekondig.
Die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie van Suid-Afrika Dr Blade Nzimande en Minister Ed Husic van Australië, het meer as €200 miljoen aangekondig vir Australiese en Suid-Afrikaanse maatskappye, om van die uitgebreide infrastruktuur wat vir die teleskope benodig word, te lewer.
Die SKAO het ook die groot kontrakte – ter waarde van €100 miljoen – aangekondig om die antennas vir beide teleskope te vervaardig, wat die totale hoeveelheid konstruksiefondse wat tot dusver deur die sterrewag toegewys is op naby €500 miljoen te staan bring.
Die wetenskapminister het in sy toespraak uitgebrei oor die kontraktuele voorwaardes wat die SKAO aan infrastruktuurverskaffers stel, om plaaslike gemeenskappe in te sluit.
Spesifiek in Suid-Afrika word van die hoofinfrastruktuurkontrakteur verwag om ‘n proporsionele bedrag plaaslik te bestee, deur ‘n reeks subkontrakgeleenthede aan plaaslike klein-, mikro-, en medium- ondernemings te verskaf, met die fokus op indiensneming, opleiding en oordrag van vaardighede plaaslik en op ander gemeenskapsontwikkelingsinisiatiewe.



