Frances-Baard distrikspolisie boei misdadigers vir verskeie misdade

 Frances-Baard distrikspolisie boei misdadigers vir verskeie misdade

Foto: Verskaf @Noord-Kaap SAPD

Talle verdagtes is die afgelope naweek vasgetrek, tydens ‘n polisie operasie wat die naweek in die Frances Baard-distrik uitgevoer is.


‘n Woorvoerder vir die polisie, Kaptein Olebogeng Tawana het gesê dat die operasie gelei was deur die waarnemende adjunk-provinsiale kommissaris vir polisiëring, Brigadier Hennie van Rensburg en die Frances Baard-distrikskommissaris, generaal-majoor Johan Bean.

“Onwettige kriminele aktiewiteite was aangespreek in die Frances Baard-distrik, insluitend Roodepan, Pampierstad, Hartswater, Jan Kempdorp, Warrenton, Barkly-Wes, Galeshewe, Kagisho, Modderriver en die Kimberley-polisiëringsgebiede”, sê Tawana.

Die polisielede het nakomingsinpeksies uitgevoer by 110 drankwinkels waartydens 383 klante deursoek is, 129 huise is deursoek, insluitend 153 voertuie, 15 gevaarlike wapens wat messe insluit is op beslag gelê tydens die operasie.

Verkeers- en ander boetes is ook aan motoriste uitgereik, insluitend diegene wat op straat gedrink het.

“Tydens die operasie is daar ook beslag gelê op mandrax-tablette sowel as kontant wat vermoedelik die opbrengs van dwelmhandel is”, vertel Tawana.


Die polisie sê ‘n vrou was in hegtenis geneem by ‘n taverne toe sy tik in die toilet probeer wegspoel het.

Op Pampierstad is twee verdagtes, ‘n Nigeriese burger en ‘n Suid-Afrikaanse burger onderskeidelik by hul wonings gearresteer en die polisie het beslag gelê op meer as 100 mandrax-tablette, tik, ‘n vermoedelik gesteelde skootrekenaar, selfone en geld wat vermoedelik die opbrengs van dwelmhandel is.

Vrydagaand, 11 Maart 2022, is twee mans en ‘n vroulike verdagte in Roodepan in hegtenis geneem ná ‘n klopjag en deursoeking op hul perseel.

Hulle is in besit van mandrax-tablette en kontant gevind.

Van die verdagtes wat in Galeshewe en Kagisho in hegtenis geneem is, is ook in besit gevind van dwelms wat dagga, mandrax en tik insluit.

Tawana het ook bevestig dat Brigadier Hennie van Rensburg en die polisie, ‘n daggaplantasie by ‘n huis op Naborn in die Roodepan-area vernietig het.

Alle verdagtes, tussen die ouderomme van 25 en 54 jaar oud, sal na verwagting vanaf Maandag, 14 Maart 2022 in verskillende howe in die Frances Baard-distrik verskyn op klagtes wat wissel van handel in dwelms, die besit van dwelms en die besit van gevaarlike wapens.

Marsilino Lapont

http://Marsilino

Related post