Gemeenskaplede dreig Relebogile se moordenaar met mob-justice

 Gemeenskaplede dreig Relebogile se moordenaar met mob-justice

Foto: Verskaf

Gemeenskaplede in Galeshewe, buite Kimberley het gedreig om die 24-jarige beskuldigde, wat aangekla is van die verkragting en moord op die 11-jarige Relebogile Segami, te vermoor sóú hy op borgtog vrygelaat word.

Relebogile se naakte lyk is op 31 Maart in die veld agter die gebou van die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer gevind, met ‘n T-hemp om haar nek.

Woedende gemeenskapslede het vanoggend buite die Galeshewe-landdroshof saamgedrom, waar die 24-jarige beskuldigde, Itumeleng Machabe, ‘n kort verskyning gemaak het.

“Dit sal beter wees vir sy eie veiligheid om agter tralies te bly, maar ons wil graag hê hy moet vrygelaat word sodat hy gestraf kan word vir wat hy gedoen het,” het die gemeenskap vuurwarm gewaarsku.

Machabe het intussen die hof ingelig dat hy om borgtog wil aansoek doen en dat hy sy eie regsverteenwoordiger sal aanstel.

Die Staatsaanklaer in die aangeleentheid, Fatima Monyobo, het opgemerk dat Machabe ‘n hangende saak het waarvoor hy op 25 April moes verskyn.

“Die staat ondersoek tans of die twee sake gekombineer kan word,” het sy gesê.

Sy het versoek dat die saak uitgestel word om met die familie van die oorledene te konsulteer.

Landdros Jerry Tsatsimpe het verklaar dat ‘n borgtogverhoor sewe dae ná die eerste verskyning van ‘n beskuldigde moes plaasvind, en het die saak tot 13 April uitgestel.

“Die saak sal uitgestel word vir borgtoginligting wat ingesamel kan word, en om die beskuldigde toe te laat om ‘n regsverteenwoordiger aan te stel. Hy sal tot dan in aanhouding bly.”

Bernadine Hearn

Related post