‘n Gesondheidsektor-sekuriteitskontrak ter waarde van R380 miljoen is die middelpunt van ‘n verhoor in die hooggeregshof in Kimberley, waar drie mans daarvan aangekla word dat hulle die provinsiale regering bedrieg het.
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Steven Jonkers, voormalige provinsiale gesondheidsdepartementhoof, en Gert van Rooyen en Claudius Peterson, direkteure van Defensor Electronic Security Systems, na bewering die reëls van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur in die tenderproses verontagsaam.
Boonop het die NVG gesê dat Defensor nie by die Reguleringsowerheid vir die Private Sekuriteitsbedryf geregistreer is nie, soos vereis word ingevolge tenderregulasies.
