Kimberley kankerpasiënte wat nie na Bloemfontein kan reis nie, kan nou bestralingsbehandeling by Robert Mangaliso Sobukwe Hospitaal ontvang, danksy ’n samewerking met ’n private diensverskaffer, Icon Oncology.

Icon Oncology streekbestuurder Jennifer Fuller het verduidelik dat radioterapie behandelings tussen twee tot ses weke geneem het om te voltooi.

“Die diepgaande sosio-ekonomiese en psigososiale tol van Noord-Kaapse pasiënte wat ver afstande van hul huise en families af moet reis, is onoorkomelik. Ons het met die Departement van Gesondheid saamgewerk in ‘n ware voorbeeld van hoe die regering en die private sektor kan saamwerk na ‘n gemeenskaplike doelwit,” het Fuller gesê.

Sy het bygevoeg dat die Departement van Gesondheid vervoer en verblyf aan pasiënte van verafgeleë gebiede van die provinsie verskaf terwyl hulle behandeling ontvang.

“Sedert die implementering van die projek in Oktober 2019 het 511 kankerpasiënte bestralingsbehandeling voltooi. Voorheen sou al hierdie pasiënte na Bloemfontein moes reis om behandeling te ontvang.”

Robert Mangaliso Sobukwe Hospitaal se kliniese bestuurder vir hospitaaldienste Dr Alastair Kantani het gesê dat die vennootskap lewens gered het.

“Dit is ‘n groot sukses. Ek is trots op die feit dat ons as tersiêre hospitaal toegang tot terapiedienste kan gee,” het Kantani gesê.

Die waarnemende Hoof uitvoerende beampte van Robert Mangaliso Sobukwe Hospitaal, dr Esme Olivier, het ander provinsies aangemoedig om hierdie publiek-private model te volg om pasiënte gesondheidsorgdienste te bring wat nie onmiddellik by openbare hospitale beskikbaar was nie.

“Beheer is die sleutel en maandelikse vergaderings word tussen die twee bestuurspanne gehou om pasiëntervaring, statistieke, fakturering en ander operasionele aangeleenthede te bespreek. Dit het gelei tot voortdurende verbetering van die projeklewering oor die afgelope vyf jaar. Hierdie verdeling van verantwoordelikheid het gelei tot die ontwikkeling van ‘n baie sterk verhouding,” het Olivier gesê.

Dr Ernst Marais, bedryfshoof van Icon Oncology, het gesê dat hierdie samewerking wys hoe universele gesondheidsorg gespesialiseerde behandeling aan alle burgers kan bring.

“Die Noord-Kaapse inisiatief is ‘n voorbeeld van die potensiaal wat inherent is daaraan om die gaping tussen die openbare en private gesondheidsorgsektore te oorbrug,” het hy opgemerk.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *