Wat vandag moes beskou word as ‘n vreugdevolle dag vir die familie, vriende en kollegas van Johannes Majiedt, wat vandag sy 57ste verjaardag sou vier, is ‘n dag van trane en hartseer.
Majiedt, of die lekke ekke, het gisteraand skielik heengegaan, oppad hospitaal toe op Springbok.
Majiedt was ‘n uitmuntende skrywer, digter, kunstenaar en omroeper en was selfs op ‘n tyd ‘n gospel kunstenaar.
Hy het nog Maandagmiddag heel vreugdevol tydens sy program Koffietyd, stories met sy geliefde Namakwalanders kom deel.
Majiedt het destyds programme soos Bokjol op ‘n Saterdagoggend en Dagbreek op ‘n Sondagoggend onderskeidelik aangebied.
‘n Luisteraar noem dat Majiedt ‘n besonderse stem gehad het.
“Radio Nfm 98.1, die stem van die Namakwa mense, ‘n hartlik welkom in die program Koffietyd, saam met my Johannes Majiedt, die Lekke Ekke. Jou lekke ekke, my lekke ekke, maak nie saak nie, solank ons net almal weet dat ons lekke gelukkig is. Dit is ‘n lekke dag vandag en ek glo dat jy met ‘n nuwe moed opgestaan het en as jy met ‘n moed opgestaan het wat jou so terug rem, so terug na probleme, wat jou vasstrap wat jou dink aan jou problems. En die maand is nog nie eens in sy kwartetjie nie. Wil ek vir jou sê, moenie worry nie man, sien tjy, daai goedte kom en gaan. Hou jy net by wat jy weet, tjy staan vas. Sien tjy, dis ‘n lekke dag en jy staan vas. Jy weet die grootste geskenk wat jy kan kry by God, is om kan wakker te word. Dis ‘n baie groot geskenk, ek los daai gedagte met jou, ja en met dit groet ek jou met ‘n elmboog…. Tarra,” dit was Majiedt se laaste groet in die program, Koffietyd op Maandag, 12 September.








Majiedt was ‘n raakvatter, en was altyd bereid om te help waar hy kon.
Hy het almal wat deel van sy kring was gemotiveer om beter te doen.
Twee weke terug het hy by die stasie opgedaag, en aan Bernadine Hearn genoem dat hy ‘onder die besembos was en dat sy sou verstaan het. ‘
Sy geloof in God was onwankelbaar en hy het altyd geglodat hy ver sal kom met die hulp van God.
Met daardie geloof, het hy tesame met Fabian Carroll en Llewellyn Stevens, Kokerboom Media, ‘n plaaslike produksie-maatskappy op die been gebring.
Koekerboom Media se doel is om plaaslike talent te ontwikkel en die nodige platform vir opkomende kunstenaars te skep.
Die passie om te bemagtig, soos die radio altyd doen, was ook een van sy karaktertrekke.
Majiedt was die stigter, direkteur, en voorsitter van hierdie organisasie.
Rus sag die Lekke Ekke, ons as familie, kollegas en vriende sal jou altyd onthou vir wie jy was. Jy sal vir altyd in ons harte leef.
