Die LUR vir Onderwys, mnr Zolile Monakali, vergesel deur die burgemeester van Kammiesberg Munisipaliteit, raadslid Susarah Nero, die departementshoof, me Moira Marais en senior amptenare het vandag die Hoërskool Garies besoek na die verwoestende brand op Saterdag, 17 September 2022, wat 80% van die skoolgebou vernietig het.

Hierdie ongelukkige voorval is ‘n massiewe terugslag vir die departement, sowel as vir die personeel, leerders en die skoolgemeenskap van Hoërskool Garies.

“Ons het vandag ‘n tereinbesoek gedoen om die skade wat deur die brand veroorsaak is, te bepaal en om die pad vorentoe in terme van leer en onderrig te bepaal. Die skoolbestuurspan van Hoërskool Garies is besig om ‘n verslag oor die omvang van die skade saam te stel sodat die Departement onmiddellike ondersteuning kan verleen,” het Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement gesê.

Die Departement sal 11 mobiele klaskamers aanskaf as ‘n onmiddellike ingryping om te verseker dat leerders teen 11 Oktober 2022 kan terugkeer skool toe.

Die 21 graad 12-leerders sal by die koshuis geakkommodeer word, waar hulle met die proefeksamen sal voortgaan.

Van Der Merwe sê die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en Suid- Afrikaanse Polisiediens is besig met hul forensiese ondersoek.

Die skoolgebou is afgesper en sal onder SAPD-toesig bly totdat hul ondersoek afgehandel is.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *