Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het vanoggend, 14 Mei, 27 leerderwaardigheidspakkies aan die Graad 12-leerders van SA van Wyk Hoërskool oorhandig.
Die pakkies bevat onder andere eksamenblokke, penne, ’n markeerstift, energiedrankies, energiestafies, Pringles-skyfies, asook persoonlike higiëneprodukte soos seep, ’n waslap, tandepasta en ’n roll-on.
Meisies het ook sanitêre pakkies ontvang.
Die skool het mev. Charlene Cloete en haar span van die departement bedank vir hul ruimhartigheid.
Volgens die skool is hierdie gebaar ’n teken van gemeenskapsbetrokkenheid en ondersteuning aan die matrieks.
Aan die leerders is ’n duidelike boodskap gerig: die bal is nou in julle baan.
Julle het julle eksamenrooster en die onderwysers werk hard in die klas – dit is tyd om terug te gee deur met kwaliteitresultate in die Junie-eksamen te presteer.
