’n Graad 12-leerling aan die Sekondêre Skool Vuyolwethu in Kimberley staan tereg op strafregtelike klagte nadat ’n vuurwapen Maandag (29/07/2024) by die skool in sy besit gevind is.
Volgens die Noord-Kaapse LUR vir onderwys, Abraham Vosloo, wat Dinsdag (30/07/2024) ‘n besoek aan die skool gebring het, is die vuurwapen ontdek nadat ‘n medeleerling die saak aangemeld het.
“Die wapen is ontdek nadat ‘n mede-leerder berig het dat die graad 12-leerder ‘n wapen op hom het. Die skoolhoof het ‘n deursoekingsproses begin binne die riglyne. Deur die soekproses kon hulle vasstel dat daar wel ‘n geweer was. Hulle het ook ontdek dat die geweer deur ‘n leerder van St Bonifatius aan hierdie leerder gegee is. Die saak is by die polisie aangemeld,” het Vosloo gesê.
“Die geweer is op die persoon gevind, dit was nie gelaai nie, en daar was geen magasyn in die geweer nie. Slegs die leerder van Vuyolwethu is tot dusver in hegtenis geneem. Die polisie sal die pad vorentoe bepaal in verhouding tot die ander leerder.”
Vosloo het bygevoeg dissiplinêre prosesse sal ook teen die leerling by die skool ingestel word.
“Die dissiplinêre skoolprosesse sal ontvou, maar die saak is ook nou in die hande van die wetstoepassingsagentskappe,” het hy gesê.
Die LUR het gesê hulle is in kommunikasie met die geïmpliseerde leerder van St Boniface.
“Die departement is deur die distrik en die provinsiale kantoor in gesprek met beide skole en die betrokke leerders om die feite rondom alles vas te stel,” het Vosloo gesê.
Hy het bygevoeg dat die departement ook sy fokus sal vestig op die verbetering van veiligheidsmaatreëls by skole.
“Die Hoërskool Vuyolwethu vorm deel van 86 brandpuntskole in die provinsie met ‘n groot aantal vandalisme- en diefstalvoorvalle en is sewe veiligheidsvrywilligers toegeken om sake met betrekking tot sekuriteit aan te spreek. Die departement is besig om die program te hersien om dit te verfyn en om ons skoolveiligheidsvrywilligers beter toe te rus om voorvalle van so ‘n aard te hanteer.
“Ons Werknemersondersteuningsdienste is tans by die skool om berading te verskaf aan opvoeders en leerders wat direk deur hierdie traumatiese ervaring geraak is,” het Vosloo afgesluit.
Sersant Timothy Sam, polisiewoordvoerder, het gesê die leerling staan tereg op ‘n aanklag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen.
“Die Kagisho-polisie ondersoek ‘n saak van onwettige besit van ‘n vuurwapen nadat ‘n 18-jarige leerder by ‘n plaaslike skool in hegtenis geneem is. Mede-leerders het glo by die skoolbestuur aangemeld dat die verdagte in besit van ‘n vuurwapen was. ’n Soektog is uitgevoer en die vuurwapen is in die leerder se besit gevind,” het Sam bevestig.
