Ga-Segonyana Plaaslike Munisipaliteit het bewerings verwerp dat ‘n 50-jaar huurkontrak wat vir ‘n winkelontwikkeling in Kuruman gesluit is, enigsins onreëlmatig is.
Die Noord-Kaapse Burgerlike Organisasie het die Valke versoek om ondersoek in te stel na die huurkontrak wat vir 30 jaar gesluit is en wat outomaties tot die jaar 2068 hernu sou word op die vervaldatum.
Die ontwikkeling kon nie voortgaan nie weens regstappe wat geneem is deur verskeie klein ondernemings wat op die grond bedrywig is en wat hul uitsetting betwis.
Ga-Segonyana munisipale bestuurder, Martin Tsatsimpe, het gesê dat alle sake deur die Noord-Kaapse hooggeregshof hanteer is.
“Die hof het die hersieningsaansoek van die aanstelling van die ontwikkelaar op erf 2564 met koste op 10 Maart 2023 van die hand gewys. Na hierdie uitspraak was ‘n uitsettingsaansoek suksesvol in dieselfde hof en is op 19 Januarie gelewer met koste ten gunste van die munisipaliteit,” het Tsatsimpe gesê.
Hy het bygevoeg dat die hof ‘n aansoek om teen die uitsettingsbevel op 18 Junie te appelleer met koste van die hand gewys het.
“Die applikante in die uitsettingsbevel het verder die Hoogste Hof van Appèl genader. Daarom is die saak steeds sub judice.”
Tsatsimpe het gesê die bewerings is “ongegrond en feitelik verkeerd”.
