Nagenoeg 100 graad 12-leerders van die omliggende gebiede van Springbok het baat gevind by ‘n opedag wat onlangs in Springbok gehou is.
Die geleentheid, wat deur die Kangnas-windplaas gefinansier is, was ‘n platform om aan leerders insig te gee in die verskillende geleenthede wat aan hulle beskikbaar is deur die windplaas se opvoedkundige inisiatiewe, insluitend beurse om finansiële struikelblokke aan te spreek.
Die deelnemers het die geleentheid gehad om met sleutelbelanghebbendes te skakel, insluitend verteenwoordigers van Xhaus Development, NCR TVET College en StudyTrust, wat teenwoordig was om hulpbronne en leiding te deel.
Die Kangnas-windplaas bedryf ‘n omvattende beursprogram in samewerking met StudyTrust, die beursadministrateur.
Hierdie program is ontwerp om die finansiële las wat studente dikwels verhinder om hoër onderwys te volg, te verlig.
“Boonop verleen die windplaas sy ondersteuning aan voornemende vroulike studente deur sy Vroulike STEM-program, in samewerking met die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.
Tydens die geleentheid het die NCR TVET College sy kampusaanbiedinge bevorder en noodsaaklike inligting verskaf oor studiegeleenthede, beursopsies en aansoekprosesse.
StudyTrust het gedetailleerde inligting oor die Kangnas-beursskema gedeel, insluitend geskiktheidsvereistes, aansoekprosedures en belangrike sperdatums.
Xhaus Development het die leerders verder ondersteun deur psigometriese toetse uit te voer om hulle te help om die studierigtings te identifiseer wat die beste by hul sterkpunte en belangstellings pas.
Die ekonomiese ontwikkelingsbestuurder vir die Kangnas-windplaas, Rouchet Daniels, het beklemtoon dat die belangrikheid van sulke inisiatiewe nie oorskat kan word nie.
Daniels het gesê dat baie studente beduidende finansiële struikelblokke in die gesig staar wat hulle verhoed om hul opvoedkundige doelwitte na te streef.
“Beurse speel ‘n kritieke rol om hierdie laste te verlig, wat studente in staat stel om op hul studies te konsentreer sonder die voortdurende bekommernis oor befondsing. Hierdie beurse verhoog nie net toegang tot onderwys vir studente uit lae-inkomste-agtergronde of onderverteenwoordigde groepe nie, maar bevorder ook opvoedkundige gelykheid en geleenthede,” het Daniels verduidelik.
Juandrè Mentor van Xhaus Development het gesê sulke geleenthede is baie voordelig en behoeftig in hul gemeenskappe.
“Dit is omdat hulle ‘n platform bied vir leerders om inligting te kry oor tersiêre instellings, beskikbare beurse asook vereistes en aansoekprosesse. Verder help dit leerders om ingeligte beroepskeuses te maak,” het Mentor bygevoeg.