Die Raadslid van Wyk 1 op Concordia in die Nama Khoi regsgebied, me. Charlotte Visser het op Dinsdag, 31 Januarie 2023 – tydens die Aktuele Sake program – inligting kom deurgee rakende dienslewering op die dorp.
Raadslid Visser het weggeval met die jongste beurtkragskedule, wat toe op daardie stadium verhoog is na Fase 5-beurtkrag. NFM Nuus het alreeds rapporteer dat beurtkrag watervoorsiening na die dorp beïnvloed. Inwoners sit soms vir dae sonder water, ‘n tendens wat hom jaar-na-jaar afspeel.
Die Raadslid het voortgegaan om die waterkrisis aan te spreek. Sy het duidelikheid gegee oor ‘n vergadering wat in Desember verlede jaar gehou is, met die doel om die boorgat in Tweefontein, op Danver Cloete se saaiperseel só toe te rus, dat dit water aan veral die hoogliggende areas kan verskaf.
Volgens die Raadslid, weet sy nie waarom daar nooit aan daardie uitweg aandag gegee was nie.
Inwoners het intussen tydens die gemeenskapsvergadering verlede week, wéér geeïs dat die boorgat in Tweefontein onmiddelik toegerus moet word.
Visser het ook op haar beurt die gemeenskap gerusgestel dat die plaaslike munisipaliteit alles in hul vermoë doen om die inwoners se dors te les.
Die watertenkwaens en watertrokke bied op hierdie stadium effense verligting, veral om watervoorsiening tydens beurtkrag te vergemaklik.
Die Raadslid het dit daarna goedgedink om ook luisteraars in te lig oor die sateliet polisiestasie, wat jare gelede op Concordia bedryf was, uitgesterf het en wéér belowe was aan die dorp.
Raadslid Visser bevestig dat dit ‘n aangaande proses is.
“Die gebou is daar, en daar ia ook beloftes gemaak deur die polisiebestuur, maar op hierdie stadium is inligting maar vaag en nog nie bevestig nie”, het sy gesê.
Nama Khoi en die polisie het ooreengekom om die sateliet polisiestasie so gou moontlik op die been te bring, maar dat dit net toeganklikheidsuitdagings en ablusiefasiliteite is wat die situasie laat sloer.
“Die twee-vertrek gebou wat by die dienspunt geïdentifiseer is, moet net herstel word en toegerus word met ablusiefasiliteite, dan kan die polisie maar kom intrek”, het die Raadslid bygevoeg.
Ter afsluiting het Visser bygevoeg dat die vraag na erwe op Concordia baie groot is, en dat Nama Khoi ook alles in hul vermoë doen om die tekort aan erwe aan te spreek.
*Skakel elke Dinsdag om 12H00 in, waar NFM Nuus plaaslike Raadslede die geleentheid gee om gemeenskapskwessies aan te spreek en verantwoordelikheid neem t.o.v dienslewering.
