Springbok SAPD het op Woensdag, 29 Januarie 2025, twee verdagtes, onderskeidelik 34 en 39 jaar oud, in hegtenis geneem vir dwelmhandel in Bergsig, Springbok.
Lede van die polisie het misdaadvoorkomingspatrollies in en om die Bergsig-area uitgevoer toe hulle ‘n verdagte pers motorvoertuig opgemerk het. Die voertuig het vinnig weggetrek toe die bestuurder die polisie in dieselfde straat gewaar het.
Die polisie het die voertuig agternagesit en dit uiteindelik in een van Bergsig se strate vasgekeer. Tydens die aksie het die span opgemerk hoe een van die insittendes probeer het om ‘n bruin papiersak oor ‘n erfmuur te gooi.
By nadere ondersoek is mandrax-tablette met ‘n geraamde straatwaarde van R90 600-00, tik ter waarde van sowat R615 000-00, en kontant wat vermoedelik uit misdaad verkry is, gevind.
Die Springbok-polisie se volgehoue pogings dra by tot die stryd teen dwelmhandel. Hierdie arrestasies beklemtoon die polisie se verbintenis om dwelms van die strate te hou.