Blue Kester, ‘n boorling van Nababeep in die Noord-Kaap, tans woonagtig in die Wes-Kaap, was gisteraand oorstelp toe hy wegstap met ‘n stewige bedrag van R795 000.
Kester was as die wenner van KykNET se werklikheidsreeks, Plaasjapie Seisoen2 aangekondig.
Die reeks gaan oor 18 stads- of dorpsmense wat geen boerdery- of plaaservaring het nie, en ‘n maand lank in ‘n skuur moet bly en werk soos boere.
Kester het die hartlike woorde dat sy dryfkrag sy familie was aan Maroela Media geuiter. “Wat kykers moet verstaan is dat almal wat ingeskryf het vir n spesifieke rede wou wen. My rede was suiwer vir my ma en my ouma, om dinge makliker vir hulle te probeer maak”, het Kester laat hoor.
Sekere kykers was op oomblikke warm onder die kraag vir Blue se manier van spel en hy maak bekend dat hy alreeds onder daardie indruk was, maar ook dat hy nie te veel aandag daaraan kon skenk as hy die pryspot wou bekom nie.
Hy pleid aan kykers om werklikheidsreekse in die toekoms met oop harte te kyk.
