Meer as 300 huishoudings in die Namakwa-distrik is deur oorstromings geraak ná swaar reën gedurende die tydperk 14 Junie tot 18 Junie.
Die Noord-Kaapse departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta) het gesê dat sy ramp eenheid en die Namakwa-rampbestuurseenheid die geaffekteerde gebied en die skade wat aangerig is, beoordeel.
Die assistent-direkteur van kommunikasie vir Coghsta, Tshenolo Meruti-Sebolai, het gesê vyf gebiede in die Hantam-munisipaliteit is geraak.
“Die swaar reën het Calvinia, Nieuwoudtville, Middelpos, Loeriesfontein en Sutherland geraak,” het Meruti-Sebolai gesê.
“Die oggend van 15 Junie 2023 was die Kareedam op 100% en het oorgeloop en gevolglik moes water herlei word om skade aan die damwal te voorkom.
“Rampbestuurspanne is ter plaatse besig om die geaffekteerde gebiede te beoordeel. Sodra die assessering voltooi is, sal ingrypingsmetodes plaasvind,” het Meruti-Sebolai bygevoeg.
