Vedanta Zinc International (VZI) het op Vrouedag hul waardering uitgespreek vir die merkwaardige bydraes van vroue in die maatskappy en in die gemeenskappe waar hulle werksaam is.
Raylene van Wyk, Hoof van Menslike Hulpbronne by VZI, het in haar boodskap aan kollegas, vennote en vriende gesê dat die veerkragtigheid, leierskap en toewyding van vroue daagliks ’n bron van inspirasie is.
“By VZI is ons diep verbind daartoe om vroue te bemagtig deur geleenthede vir groei, leierskap en sukses op elke vlak van ons organisasie te skep. Gelei deur ons waardes bou ons ’n werklik inklusiewe omgewing waar elke stem gehoor word, elke talent erken word en elke individu waarde het,” het van Wyk gesê.
VZI spog reeds met ’n werksmag waarvan 22% vroue is, ver bo die bedryfsgemiddelde. Die maatskappy het egter ’n duidelike teiken gestel: teen 2030 wil hulle minstens 35% vroue in bestuursposisies hê, met ’n streefgetal van nagenoeg 40%.
Volgens van Wyk is die maatskappy se Vroue-in-Mynboukomitee ’n sprekende bewys van hul verbintenis tot ’n veilige, inklusiewe en ondersteunende werksomgewing.
Die boodskap is deel van VZI se Vrouemaandvieringe onder die tema “Ons is vroue van sink”, waarin hul nie net die prestasies van vroue vier nie, maar ook hul rol as baanbrekers en katalisators vir verandering beklemtoon.
“Ons sien jou, ons waardeer jou, en vandag vier ons jou,” het van Wyk afgesluit.
