Inwoners van Aggeneys en omliggende gebiede is gewaarsku om ekstra versigtig te wees nadat kameras in die Gamsberg-kloof die teenwoordigheid van minstens een – moontlik twee – luiperde vasgevang het. Die waarneming is op 14 Augustus 2025 deur Vedanta Zinc International bevestig.
Die maatskappy het in hul verklaring goed-nagevorsde feite, kenmerke en veiligheidsmaatreels gedeel.
Luiperde is van nature solitêre diere. Volwasse mannetjies en wyfies ontmoet slegs tydens paring, en verkies oor die algemeen om menslike kontak te vermy. Tog kan hulle gevaarlik wees indien hulle ingekeer of bedreig voel, veral wanneer ’n wyfie kleintjies beskerm.
Luiperde is uiters aanpasbaar en kan in ’n verskeidenheid omgewings oorleef, ook in gebiede wat deur menslike aktiwiteit beïnvloed word, mits daar genoeg skuiling en prooi beskikbaar is. Aangesien hulle hoofsaaklik nagdiere is, is dit ongewoon om hulle in daglig te sien.
Vedanta doen ’n beroep op inwoners en personeel om waaksaam te wees, veral in of naby die kloof, en om veiligheidsmaatreëls streng na te kom:
Wat om te doen wanneer jy een sien:
• Rapporteer enige waarnemings aan die biodiversiteitspan, insluitend ligging, tyd en gedrag van die dier.
• Bly in voertuie waar moontlik.
• Beweeg stadig en bly kalm.
• Verlaat die gebied indien jy ’n luiperd opmerk.
• Gee ruimte en laat die dier self wegbeweeg.
Wat om nie te doen nie:
• beperkte gebiede betree sonder toestemming van die biodiversiteitspan.
• Moenie probeer hardloop of maak skielike harde geluide.
• voorwerpe gooi of probeer die dier verjaag.
• die luiperd voer nie.
Die maatskappy beklemtoon dat hierdie diere deel is van die natuurlike ekosisteem van die gebied en met respek hanteer moet word. “Ons veiligheid, sowel as die bewaring van die luiperde, hang af van verantwoordelike gedrag,” lui die verklaring.
