Die polisie in Douglas het drie mans gearresteer minute nadat hulle skote afgevuur het en gepoog het om ‘n snoepie in Breipaal, Douglas, te beroof.

Op Dinsdag, 09 Januarie 2024 omstreeks 04:00 het die vier manlike verdagtes na bewering ‘n snoepie in Breipaal, Douglas betree en die 28-jarige manlike slagoffer in sy arm geskiet en gewond.

Polisiewoordvoerder, Luitenant Kolonel Sergio Kock het bevestig dat die verdagtes het met ‘n onbekende bedrag kontant gevlug en die snoepie aan die brand gesteek.

Drie uur later het dieselfde verdagtes na bewering skote in ‘n nabygeleë snoepwinkel afgevuur toe hulle na bewering die eienaar probeer beroof het.

“Die Douglas SAPD-speurders en Sigbare Polisiëring was besig om die eerste toneel by te woon en het dadelik op die geweerskote by die snoepie gereageer. Die vier verdagtes het te voet deur mieliegewasse gevlug, maar drie van hulle is deur die polisie gevang en gearresteer,” het Luitenant Kolonel Kock gesê.

Die polisie het ook beslag gelê op ‘n Baby Brown-vuurwapen en ammunisie.

Die vierde verdagte is steeds op vrye voet, maar die polisie glo dat sy arrestasie op hande is.

Kock het gesê dat die verdagtes sal van poging tot moord, roof, brandstigting en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie aangekla word.

Die drie manlike verdagtes is tussen 25 en 35 jaar oud en sal binnekort in die Douglas-landdroshof verskyn.

Enigiemand met inligting kan Douglas Speurders kontak by 082 301 9978.

Die ondersoek duur voort.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *