Die waaksaamheid van lede by die Vioolsdrift-grenspos op 20 Februarie 2024 het gelei tot die aankeer van ‘n manspersoon en die konfiskering van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig en onverwerkte goud.
Brigadier Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder het bevestig dat ‘n roetinediens by die Vioolsdrift-grenspos tussen RSA en Namibië in die Namakwa-distrik op Dinsdag, 20 Februarie 2024 om 07:20 plaasgevind, het polisielede ‘n Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie deursoek wat RSA verlaat en na Namibië onderweg was.
Met die deursoeking van die voertuig het die polisie ontdek dat die bestuurder bedrieglike dokumente voorgelê het en nadat hulle die bakkie deursoek het, het hulle onverwerkte goud met ‘n geraamde waarde van R9 500-00 gevind.
“Die gekonfiskeerde voertuig word op R1,1 miljoen gewaardeer. Die 42-jarige manlike bestuurder is aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde voertuig en bedrog,” het Gamieldien gesê.
‘n Navraag is geregistreer in verband met die onverwerkte goud.
Die verdagte sal binnekort in die Springbok-landdroshof verskyn.

